|
Oefening en die Moderne Lewe - Maree de Wet  As ek iemand die woord "oefening" hoor uitspreek, wil ek sommer lang treë in die teenoorgestelde rigting hol - dit wek beeltenisse op van honderde kilogramme rondskuif, kilometers se hardloop, nat gesweete liggame en 'n skuld gevoel dat ek nie Ystervrou van die jaar is of iets nie. En tog, in hierdie moderne tydperk van ure by die kantoor deurbring of agter die komper sit, is dit tog noodsaaklik dat ons oefening kry vir 'n gesonde liggaam en verstand. Dié feit bestry ek geensins nie, dis net die druk wat die gemeenskap op mens plaas om super-fiks te wees waarmee ek 'n probleem het. Ek persoonlik glo dat oefening matig en natuurlik moet wees. Iemand wat spiere ontwikkel het op 'n natuurlike manier soos deur outydse, harde werk - die omspit van grond, die oplig en dra van 'n sak sement of baal gras, die vashou en hantering van 'n bees of perd - lyk veel beter is die onnatuurlike gespierdheid opgebou deur gewigstoot. Maar kan jy jou 'n 'office johhny' voorstel 'n wilde perd vashou of een honderd bale gras opmekaar pak in die stoor of pakke sement aandra vir die bou van die nuwe buitegeboue? Of 'n petite kantoor dametjie wat rye en rye aartappels uitspit vir vanaand se ete? Tye het definitief verander en derhalwe word ons geforseer om aan te pas, viz a viz die hoogs onnatuurlike metodes van oefening wat by ons ingehamer word. Maar enigiets ekstreem soos om 'n resies te hardloop van honderde kilometers kan geensins vir geen mens goed wees nie. Kyk net na die aantal jaarlikse slagoffers wat die Comrades oplewer en jy sal weet waarvan ek praat. So wat is die antwoord? Alles in matigheid, sê ek altyd. Matigheid in jou eet gewoontes, matigheid in jou spandeer gewoontes, matigheid in oefening. As ons matig is in ons eet gewoontes, is dit maklik om gesond en fiks te bly deur vir kort uitstappies te gaan op die strand of 'n veilige gemeenskaplike park en fietsritte saam met die gesin is ook kwaliteit tyd saam deurgebring. Parkeer ver van die winkelsentrum se ingang en stap daardie ent. Spandeer tyd in die tuin, verwyder die vuilgoed jouself, gebruik die tuinslang vir 'n verandering in plaas van die besproeiϊngs stelsel en doen bietjie verfwerk rondom die huis (ek het gevind dis die beste oefening vir bo-arms!) En die heen-en-weer loop met die kruiwa werk die maag-, bo-been- en armspiere. En bowenal verkry jy al jou Vitamien-D van buite in die sonlig wees (met jou hoed op, natuurlik!) en kan jy kennis maak met al jou geveerde vriende wat daagliks van jou tuin gebruik maak vir hul lewensbestaan (en nou is daar nog meer oefening, want jy moet die saad- en waterbakkies daagliks skoonmaak vir hulle!) Natuurlike oefening is ver en heinde te vinde vir die vrou wat haar eie huiswerk behartig - ek kan aan niks meer veeleisend as huiswerk dink nie - dié dames beskou ek as waarlike Ystervroue wat tot enigiets in staat is! Dis beddens opmaak (versterk die rugspiere en bobene), vloere skrop (arms, bene, maag, sommer alles), afstof (arms), skottelgoed was en droogmaak (bene en weereens arms), wasgoed en strykwerk (arms!) en die kookwerk (hanteer van die potte en panne is so goed soos enige gewigte). Ek glo min mense loop en draf so ver soos 'n ma of huisvrou wat inkopies moet doen en kinders moet organiseer. En tog kla ons huisvrouens oor die pondjies wat aanpak en net nie wil weggaan nie en ons dink ons moet maar liewer gym toe gaan... Weereens is dit waar matigheid inkom - as die gewig aanpak is dit net 'n teken dat ons meer eet as wat ons oefen - iemand wat agter 'n lessenaar sit het minder kos nodig as 'n houtkapper wat vir 8 ure bome afkap. En iets om aan te leer is om NET te eet wanneer jy honger is. Ontbyt is een van die mees onsinnige eetgewoontes ooit aangeleer - wie kan honger wees na 'n nag van slaap en niks doen nie? En as jy 'n besige oggend agter die rug het, eet dan om 11uur of 12 uur wanneer jy regtig honger voel. Leer om die verskil te herken tussen ware honger en die knaende drang of behoefte na sommer net enigiets om te eet. Hongerte is nooit 'n ongemaklike gevoel wat gepaard gaan met swakheid of knaende drange nie. Om honger te wees is 'n aangename, afwagtende gevoel vir kos. Dit kom nie op vasgestelde tye nie. Dit kom net wanneer die liggaam gereed is om te ontvang en te verteer. Sodra ons geleer het om te onderskei tussen ware honger, veroorsaak deur genoeg fisiese arbeid om dit te regverdig, en die knaende lus vir sommer net enigiets, dan sal ons natuurlike, daaglikse oefening genoeg wees om ons gesond en fiks te hou. Tot wedersiens!
|