|
Page 1 of 11 TROTS AFRIKAANS Ons pragtige taal verewig in digvorm, 'n herhinnering van ons oorsprong, van vergane dae en skoolbanke waar ons nie juis geϊnteresseerd was in watter digters wat gesê het nie... en soos jy aanstap in die lewe, kom 'n hunkering na wie-weet-wat, 'n erkenning van die nodigheid om in jou eie taal gehoor te word of te kan lees. Dankie vir die verewiging van ons digters en hul digvorms - voel vry om die gedigte af te laai en aan te stuur aan diegene wat ook hunker na die voortlewing van ons pragtige taal... - Maree de Wet  Slaap DF Malherbe (1881-1969) Wat is die slaap 'n wondersoete ding! Sag op haar bloue oë daal die vaak soos maneskyn diep waterkuile raak om daar te droom in silwer skemering. Vir laas beef oor haar lippe 'n fluistering: "Nag, Pappie." Ek merk hoe langsaam sy genaak, wat drome soet tot werklikhede maak: in moedersrarms rus my lieweling. Sluit so my oë, God, wanneer vir my u Engel wenk ter laaste, lange rus en ek van wilde woeling hier moet skei; dat my dan stille-drome huis toe sus en sterke Hand deur duisternisse lei. Sluit so my oë, God, as ek gaan rus. <><><><><><><><><><><><><><><><><> Trou - Jan F.E. Cilliers Ek hou van 'n man wat sy man kan staan, ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan, 'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan! Ek hou van 'n man wat sy moeder eer, in die taal uit haar vrome mond geleer, die verraaiersgeslag in sy siel verag wat, haar verstotend, homself kleineer.. Die oog wil ek sien wat 'n traan nog ween vir 'n heldegeslag, in hul rus daarheen, maar 'n blits van trou in die traan van rou, wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen. Vir my d'Afrikaner van durf en daad, wat mammon's eer en loon versmaad, sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land en 'n trap van sy voet vir laag verraad! O, 'k hou van 'n man wat sy man kan staan; ek hou van 'n daad wat soos donder slaan, 'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan! <><><><><><><><><><><><><><><><><><><> GEBED Laat my nooit die grond verlaat nie, Laat my in U skadu bly. Gee dat elke aardse vreugde en vrees - eind'lik nietig word vir my. Elke afdraai paadjie ken ek, Elke keer het ek verdwaal, Elke keer het U my iewers kom haal, Maak dit, Heer, die laaste maal! Elke dag is 'n gedagte, Elke kamer net gehuur. Elke aardse droom van rykdom en roem - net 'n skadu teen die muur. Wat ek is, is net genade - Wat ek het, is net geleen. Eintlik smag ek na U waters van rus; Lei my, Heer, vanaand daarheen. Vanaf DOZI se CD ''Storm op die Horison'' <><><><><><><><><><><><><><><><><><><><><> Sy fluister sag in ieder's oor, 'n Nuwe uitsig blink daar voor; Waar groue newels van die nag, Wyk in die wonder van die dag. - A.G. Visser <><><><><><><><><><><><><><><><><><><><><> Nog gedigte...
|