|
Thursday, 30 July 2009 |
Ek het op hierdie interessante stuk afgekom op Hennie Stander se blog : Miere offer hulle lewe op Dinsdag, 30 September 2008 
Ek het ’n geweldige interessante berig oor ’n bepaalde mierspesie in Brasilië gelees. Elke aand verseël die miere die ingange na hulle ondergrondse neste om hulle teen bedreigings te beskerm. Maar dit beteken dat daar elke aand ’n paar miere buite moet bly om sand teen die ingange te skop om dit onsigbaar te maak. Die miere wat buitekant bly om hierdie werk te doen, sterf dan gewoonlik van koue, of hulle word deur die wind weggewaai, of hulle word deur insekte of ander diere opgevreet. Dit beteken dus dat die miere wat die taak het om die ingange van buitekant af toe te maak, hulle lewe opoffer ter wille van die kolonie. Dierelewe is darem merkwaardig. Daar is so baie wat ons mense van diere kan leer. In ons postmoderne lewe is elkeen so geweldig egosentries. Elkeen kyk wat hy of sy uit die lewe kan kry. As jy in hierdie proses dan jou lewensmaat of jou kinders of jou vriende of kollegas te na moet kom, dan is dit jammer, maar daaraan kan dan niks gedoen word nie. Jy plaas jou eie geluk en lewensvreugde voorop. Ek dink nie daar word regtig van ons gevra om ons lewe prys te gee ter wille van ander nie. Dit is dalk hoogstens ’n bietjie gemak wat jy moet opoffer om ander se lewenskwaliteit te verhoog. Spreuke 6:6 sê: “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.” In Spreuke wil die skrywer ’n ander les by ons tuisbring, naamlik dat ons nie lui moet wees nie, maar hard moet werk. Vandag wil ek die lesers vra om by die miere ook ’n ander les te leer, en dit is om bereid te wees om jouself op te offer ter wille van ander. VANAF HENNIE STANDER SE BLOG http://www.carpediem.co.za/henniestander/2008/09/
|
|
Last Updated ( Thursday, 30 July 2009 )
|