|
Grense My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan, soos uit diepe slaap ons drome, soos teen skemerlug die bome opreik na die bloue maan; gaan met al sy donker wense, en die heilige, nooit-gehoorde dinge sê, waarvoor die mense huiwer, en wat om die grense flikker van my duister woorde. N.P. van Wyk Louw Voël ’n Voël vlieg voor my venster verby, ’n naalddun lyn wat daaroor gly en die glas in twee vlakke sny; die wêrelde val apart en bly elk in sy enkelheid geskei – ek hierbinne, en daarbuite hy. N.P. van wyk Louw Die liefde in my Dis altyd jy, net altyd jy, die een gedagte bly my by soos skadu’s onder bome bly, net altyd jy, net altyd jy. Langs baie weë gaan my smart, blind is my oë en verward, is alle dinge in my hart. Maar dit sal een en enkeld bly, en aards en diep sy laafnis kry, al staan dit winter, kaal in my, die liefde in my, die liefde in my. N.P. van Wyk Louw Nog eenmaal Nog eenmaal wil ek in die skemeraand weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan, weer met my rek op in die donker skiet, en luister, en al word ek seer en dof, hoe die klein klippie ver weg in die riet uit donker in die donker water plof. N.P. van Wyk Louw Voorspel 1950 Miskien sal ek die wingerd prys en nooit meer van hom drink en net in ’n verbeelde glas die koel gedagte skink: dié wat in jare donkerte sy wynsteen kon laat sak en niks wat somers is meer het nie pit nie dop of rank: miskien nog van Gods weë weet: – Sy paaie en Sy pyn: maar ingewikkeld alles ken en mens wil wees én rein. N.P. van Wyk Louw Uit Tristia (1962)
|