|
Ek het op hierdie ou artikel uit RAPPORT Oktober 2005 afgekom ... KENNERS STRY OOR AARDVERWARMING 01/10/2005 20:04 - (SA) Aardverwarming hou die grootste langtermyn-bedreiging in vir Afrika en sy mense. Dis daarom van kardinale belang om nou al planne te begin maak oor hoe om dié bedreiging die hoof te bied, sê prof. Bruce Hewitson, klimatoloog aan die Universiteit van Kaapstad en een van die land se voorste kenners van aardverwarming. "Dit hou 'n gevaar in vir elke faset van ons bestaan - van gesondheid en landbou tot die waterbronne waarvan ons so afhanklik is." In 'n onlangse verslag oor die uitwerking van aardverwarming op die klimaat van die Wes-Kaap word 'n paar skokkende gevolgtrekkings gemaak. In die verslag word voorspel dat dit binne die volgende paar dekades aansienlik droër in die westelike deel van dié provinsie gaan word (terwyl die ooste van Suid-Afrika natter gaan word). Tot soveel as 30% van die provinsie se fynbosspesies kan uiteindelik uitgewis word, die voorkoms van veldbrande kan verdriedubbel in die ooste van die provinsie en vloede en lugbesoedeling kan toeneem. In 'n onlangse artikel in The Washington Post word gewaarsku dat die Kaapse wynbedryf erg geraak kan word en sommige wynboere vrees reeds dat dit al hoe moeiliker sal raak om variëteite soos sauvi gnon blanc te verbou. En asof dit nie genoeg is nie, waarsku sir David King, hoof- wetenskaplike navorser van die Britse regering, vroeër vanjaar klimaatsveranderings "gaan binne die volgende dertig tot veertig jaar dieselfde uitwerking op Afrika hê as vigs en malaria". Kort daarna waarsku mnr. Marthinus van Schalkwyk, minister van omgewingsake en toerisme, malaria gaan "dramaties" toeneem in onder meer Mpumalanga. Hoewel dit dalk lyk asof uitsprake soos dié sonder enige teëspraak deur die wetenskapsgemeenskap aanvaar word as evangelie, is daar tog wetenskaplikes, ook hier in Suid-Afrika, wat meen 'n mens moet hierdie oordeelsdagpraatjies met 'n knippie sout neem. Een van hulle is dr. Will Alexander, voormalige hoof van die departement waterwese se navorsingsafdeling. Alexander het dit veral teen sprake dat reënval in die land gaan afneem en die hele land " 'n Karoo-agtige reusewoestyn" gaan word, soos al in die verlede beweer is. Alexander sê terwyl daar wel tekens is dat temperature die afgelope honderd jaar toegeneem het, is daar geen data wat toon dat reënval in dié tyd afgeneem het nie. "As daar enige bewyse is dat reënval besig is om af te neem, het ek dit nog nie gesien nie," sê Alexander. Hy sê sowel reënvaldata as die data oor riviervloei die afgelope honderd jaar toon reënval het geleidelik toegeneem - 'n feit wat "die oorgrote meerderheid" weerstasies in die land geld. Dr. Philip Lloyd, 'n ingenieur verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se energie-navorsingsentrum, sê sy gevoel word opgesom deur een van die karakters in Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein wat uitroep: "Daar is geen rede tot paniek nie!" Lloyd sê die navorsers oor aardverwarming kon hom nog nie daarvan oortuig dat dit net menslike bedrywighede is wat gemiddelde temperature die afgelope eeu met amper 10C laat toeneem het nie. "As ingenieur moet ek my beplanning doen op grond van voorspellings wat met taamlike sekerheid gemaak word. "Ongelukkig is baie van die voorspellings wat oor aardverwarming gemaak word so vaag dat dit onmoontlik is om enige beplanning daarvolgens te doen." Hy sê pleks van die gevolge met duur en onpraktiese maatreëls (soos om lande te oorreed om sekere brandstowwe uit te skakel) te probeer keer, behoort ons eerder maniere te vind om by die veranderende omstandighede aan te pas. Hewitson stem saam dat baie van die doemprofesieë oor aardverwarming wetenskaplikes se werk op dié gebied beduiwel. "Aardverwarming is 'n ongelooflik ingewikkelde probleem en die gevaar bestaan dat ons iets wat inherent moeilik is om te verstaan, wil oorvereenvoudig." Hewitson sê dit is byvoorbeeld nie so eenvoudig soos om te sê die gemiddelde reënval in Suid-Afrika het in die laaste honderd jaar toegeneem en daarom is daar dus geen probleem nie. "Die gemiddelde reënval bly dalk dieselfde, maar klimaatsverandering lei daartoe dat die intensiteit en die frekwensie van reënval verander, terwyl die tydperke van droogtes tussen reënbuie ook langer kan word." Hewitson sê terwyl daar baie dinge oor aardverwarming is wat wetenskaplikes nie verstaan nie, twyfel wetenskaplikes wêreldwyd beslis nie dat die mens se produksie van kweekhuisgasse 'n invloed op die klimaat het nie. "Ek sou saamstem met diegene wat sê ons moet ook begin kyk na die manier waarop ons by die verandering van ons klimaat aanpas - eerder as om net klem te lê op maniere om die verandering in ons klimaat te stuit. "Ons het egter ook 'n verantwoordelikheid teenoor ons nageslagte om die negatiewe gevolge van ons dade teë te werk." Pasted from <http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_1809757,00.html>
|