|
Thursday, 30 October 2008 |
CJ Langenhoven se profiel | 
Langenhoven is gebore in 1873 op Hoeko, Ladismith. Hy wou oorspronklik teologie studeer maar het later besluit op regte. In 1893 verhuis hy na Stellenbosch waar hy aan die Victoria Kollege studeer en hom as advokaat bekwaam. Langenhoven trou in 1897 met weduwee Lenie van Velden, tien jaar ouer as hy. Hy verwys altyd na haar as "Vroutjie". Hulle het een kind gehad, 'n dogter genaam Engela, wat gebore is in 1901. In 1914 word hy lid van die Parlement van Suid-Afrika waar hy homself verder toewy daaraan om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Hy word agtereenvolgens lid van die Kaapse Provinsiale Raad, die Volksraad en die Senaat. C.J. Langenhoven is mees bekend vir Die Stem van Suid-Afrika wat hy in 1918 geskryf het. C.J. Langenhoven is in 1932 oorlede aan hartverlamming. Hy was 58 jaar en 11 maande oud. Christiaan Frederik Louis Leipoldt 
Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 gebore in Worcester in die destydse Kaapkolonie, die vierde kind in sy gesin. Sy pa was 'n predikant. Hy het grootgeword in Clanwilliam, huisskool gehad -- sy moeder wou nie die Leipoldtkinders na die dorp se skool stuur nie -- en het daarna gewerk as joernalis onder meer vir De kolonist, en Het dagblad. Hy het ook vir menige oorsese koerante verslag gedoen oor die Tweedevryheidsoorlog, voordat hy hom in die geneeskunde bekwaam het, in die jare 1902 tot 1907, in Engeland. Die bekende plantkundige Harry Bolus, 'n lewenslange vriend, het die geld vir sy studies aan hom geleen. Hy het daarna rondgereis oor die wêreld, toe vir 'n tydperk gewerk as skeepsdokter vir Joseph Pulitzer, skooldokter in Londen, as mediese inspekteur van skole in die Transvaal en toe in Kaapprovinsie, as joernalis en uiteindelik as kinderarts in Kaapstad in 1925. Hy is nooit getroud nie. Hy het wel 'n seun, Jeff, aangeneem. Hy was gek na die Hantamwyk -- 'n pragtige, bergagtige gebied noord van Kaapstad, en na sy afsterwe in dié stad is hy begrawe in die Hantam, op die Pakhuispas, in die Cederberge, tussen Clanwilliam en Wupperthal. Hy was een van die leidende figure van die Tweede Taalbeweging (tesame met Jan F.E. Celliersen J.D. du Toit. Benewens gedigte, het hy ook romans, toneelstukke, kinderverhale, kookboeke en 'n reisjoernaal geskryf. (Min weet dat hy meer in Engels as in Afrikaans publiseer het). Hy was 'n liefhebber van die natuur, en het dit dikwels as tema in sy werk gehad, maar met spesifieke klem op die legendes en landskappe van sy geliefde Hantam. Ander temas betrek die lyding en pyn wat deur die Tweede Vryheidsoorlog veroorsaak is, en die kulturele leefwêreld van die Kaapse Maleiers. Die volgende skuilname is deur hom gebruik: - Africanus
- C L L
- F W B
- F W Bancombe
- F W Baxter
- F W Baxcombe
- G M K
- K A R Bonade
- Pheidippides
| ANTJIE KROG (1952-) 
Sy is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad, Vrystaat, in 'n familie van skrywers gebore. Sy het op 'n plaas grootgeword en het plaaslike laer- en hoërskole bygewoon. In 1970, op die hoogtepunt van die apartheidsjare van John Vorster, het sy hierdie moedige en idealistiese woorde vir haar skoolkoerant geskryf, wat haar konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap geskok het en die aandag van die nasionale media getrek het: Gee vir my 'n land waar swart en wit hand aan hand vrede en liefde kan bring in my mooi land. Give me a land where black and white hand in hand Can bring peace and love to my beautiful land. In 1973 het sy 'n BA (Hons) in Engels verwerf aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, en in 1976 'n MA in Afrikaans aan die Uiversiteit van Pretoria. Sy het 'n onderwysdiploma aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) verwerf en het by 'n swart onderwyskollege gedoseer. Haar bekendste werk is Country of my Skull, wat 'n verslag was van die WVK. Krog het teësinnig ingestem dat Ann Peacock dit later verwerk het as 'n draaiboek vir 'n rolprent. Dit is vrygestel as In My Country, met Samuel Jackson en Juliette Binoche. Hoewel "die hart en politiek van die rolprent getrou was", is dit andersins deur die Washington Post gekritiseer as 'n "formule-romanse" waarin Binoche nie die Afrikaanse aksent bemeester het nie en Jackson se karakter, Langston Whitfield nie oortuig as 'n verslaggewer nie. A Change of Tongue (in Afrikaans 'n Ander Tongval), haar tweede Engelse prosawerk, vertel van tien jaar van evolusie ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. Dit is 'n postmoderne vermenging van fiksie, digkuns en verslaggewing en ondersoek die verrassende en voorspelbare veranderinge wat Suid-Afrikaners gemaak het in die jare ná apartheid. Dit is soms komies en sy verweef outobiografiese elemente met die verhale van ander om 'n stryd om identiteit, waarheid en verlossing te dokumenteer. Die titel van die boek het politieke en privaat betekenis: die kwynende rol van Afrikaans in die openbare lewe word weerspieël in haar eie vlug na Engels as die medium vir haar werk. Digbundels - Dogter van Jefta (1970)
- Januarie-suite (1972)
- Beminde Antarktika (1974)
- Mannin (1974)
- Otters in Bronslaai (1981)
- Jerusalemgangers (1985)
- Lady Anne (1989)
- Gedigte 1989–1995 (1995)
- Kleur kom nooit alleen nie (2000)
- Down to my last skin (2000)
- Met woorde soos met kerse (2002)
- Verweerskrif (2006)
A.G. VISSER 
Gebore: - 1 Maart 1878
- Op Zaaifontein, in die distrik Fraserburg
- Onder hierdie saffraanpeerboom (foto)
Kinderjare: - Word groot op die Familie plaas Bloukrans
- Ontvang onderrig by ‘n Hollandse onderwyser, Koos Karstens
- Op 13 jarige ouderdom gaan hy saam met sy twee broers na Hugenote Gedenkskool in die Kaapprovinsie
Lewe as jong volwassene: - Student aan die Normaalkollege Kaapstad: Julie 1894 - Junie 1896
- Onderwyser aan Hugenote Gedenkskool: 1896 - 30 September 1896
- Word in Junie 1898 aangestel as hoof van die publieke skool op Carnavon( Salaris: R 340 per jaar en ‘n toelaag van R 68!)
- In April 1901 bring hy ‘n paar uur in die gevangenis deur, nadat hy as “rebel” uitgekryt is, omdat hy die kant van die vegtende burgers in die twee noordelike republieke gekies het.
- In September 1901 bedank hy as onderwyser en besluit om in die medisyne in Skotland te studeer. “ Visser het onderwyser uit sy eie keuse geword en ‘n geneesheer onder dwang van omstandighede.”
- In Oktober 1901 begin hy as ‘n mediese student in Edinburgh, Skotland.
- Voltooi in Julie 1906 sy mediese studies op die ouderdom van 28.
- Sy moeder is oorlede in 1907
- 1907 – 1909: Carnavon put voordeel uit Visser se kennis van die onderwys, die musiek en medisyne.
- Verkoop mediese praktyk op Carnavon en vestig hom op Steytlerville in 1909:
- 1909 – 1916 is hy ‘n Medikus op Steytlerville.
ELIZABETH EYBERS (14 Dec 1961- 3 Desember 2007) 
Elisabeth Eybers het Maandag 26 Februarie 2007 haar 92ste verjaardag gevier langs die Stadionkade in Amsterdam waar sy stil en teruggetrokke geleef het soos sy, aristokraat van die gees, nog altyd gedoen het. Sy is op die 3de Desember 2007 oorlede. Haar digterskap strek vanaf haar debuut, Belydenis in die Skemering (1936), tot en met Valreep/Stirrup-cup (2005) oor ruim 70 jaar heen, en elk van die 21 bundels wat dié digterskap omvat, het by publikasie laat blyk dat Eybers die hoë eise wat die poësie aan sy maker stel kompromisloos getrou gebly het. Haar introverte aard en uiters private leefwyse het nooit onbetrokkenheid beteken nie. Geen digter skep in isolasie nie. Dié mite is ook ten opsigte van die groot Amerikaanse digter wat volgens eie verklaring die sterkste invloed op Eybers gehad het, Emily Dickinson – wie se onttrekking aan die buitewêreld legendaries geword het – as vals uitgewys deur, onder andere, haar biograaf Richard Sewall. Tot onlangs, toe dit as gevolg van swak sig moeilik geword het, het sy met haar Suid-Afrikaanse vriende ’n gereelde, hartlike en boeiende korrespondensie volgehou. EYBERS het in haar vroeëre werk vir die eerste keer in Afrikaans aan die vrou ’n stem verleen; nie soos voorheen uit ’n manlike perspektief nie, maar vanuit haar wesensaard. Die jongmeisie bely haar ontwakende seksualiteit en verliefdheid in Belydenis in die Skemering; die vrou beleef die avontuur van moederskap, Die Stil Avontuur, 1939; Die Vrou en ander Verse, 1945, en kom tot die besef dat, ondanks vervulling van die mees fundamentele behoeftes, in die lewe van elke vrou ’n stuk onvervuldheid bly (Die ander Dors, 1946).
|
|
Last Updated ( Thursday, 01 January 2009 )
|
|