Aardverwarming of te nie, om 'n boom te plant is altyd 'n goeie idee ... bome absorbeer koolsuurgas uit ons atmosfeer, verskaf skaduwee, voorsien kos vir voëls en diere, vrugte, medisyne en die hout vir ons meubels en vure. En wat 'n pragtige sig is 'n groot boom net nie!
Dit is baie bevredigend om die saadjie self te bekom en jouself te plant. Inheemse bome versprei groot getalle sade en om 'n paar van hulle te kollekteer sal nie die volgende generasie van bome beskadig nie.
Die beste sade word gevind in vrugte wat onslangs ryp geword het. Ouer vrugte, insluitende dié wat op die grand geval het, ontkiem gewoonlik ook.
Sodra jy die vrugte bekom het, verwyder die buitenste vlees en plant die saadjie so gou as moontlik - bome vanaf 'n somerreënvalgebied ontkiem beste tussen Augustus en Maart - bome vanaf 'n winterreënvalgebied tussen Mei en September.
HOE OM JOU SAADJIE TE PLANT
Plant die saadjie in skoon riviersand net so diep dat die saadjie nét onder die grond is en sorg dat dit klam bly. Sodra die saailing 'n paar sentimeters hoog is, plant dit oor in 'n pot gevul met 'n gelyke mengsel van riviersand, kompos en goeie bo-grond. Moenie net bo-grond gebruik nie - die grond word hard en dan kan die saadjie nie ontwikkel nie.
UITPLANTING VAN JOU SAAILING
Wag totdat die plantjie sowat 500 mm hoog is voor jy dit uit plant. Die ideale tyd is in die eerste helfte van die reënseisoen en wag eers dat al die ryp verby is.
- Voor jy besluit waar om jou boompie te plant, oorweeg hoe groot dit gaan word.
Moet ook nie te na aan 'n gebou of 'n pad plant nie, aangesien die wortels dalk skade
kan aanrig.
- Grawe 'n taamlike groot gat, sowat 1m in omtrek - hou die bo-grond
eenkant in 'n hoop en verwyder enige groot klippe. Maak seker die
bodem van jou gat het skerp hoeke - ronde gate veroorsaak dat die
wortels rond en rond sirkel in plaas van om diep die grond in te beur.
- Begin die gat volmaak met die bo-grond, gemeng 3:1 met kompos of
kraalmis. 'n Handvol superfosfaat en 2:3:2 kan ook bygemeng word.
- Die grond van onder uit die gat, ook gemeng met kompos, kom nou
bo-op die bo-grond. Die rede hiervoor is dat die goeie bo-grond beter
is vir die wortels van die plant.
- Plant nou jou boompie sonder om die grond rondom die wortels te
steur. As die boompie nie wil regop staan nie, draai die wortelbol
totdat dit regop staan en druk dan die grond stewig was. Dit is beter
as om die boompie met pale te stut.
- Maak die gat vol water net voordat die laaste bietjie grond ingevul
word - dit moedig die groei van die boonste wortels aan wat baie
vinnig kan uitdroog.
VERSORGING VAN JOU BOOM
Ruspes en ander blaar-vretende wurms mag dalk al jou boompie se blare opeet, maar dit maak selde die boom dood.
Moenie insekdoders gebruik nie aangesien dit die voëls kan vergiftig wat die insekte eet. Indien nodig, verwyder die insekte met die hand.
In areas met swaar ryp is dit dalk nodig om die jong boompie te beskerm vir sy eerste winter. Draai die boompie toe met droë gras maar los die boonste blare oop.
Dis nie nodig om die boom te snoei nie - die onderste takke gee balans en val af wanneer die boom hulle nie meer nodig het nie.
WAT JY KAN DOEN
Suid Afrika is die derde mees biologiese uiteenlopende land in die wêreld alhoewel dit net 2% van die globale grond area bedek. Suid Afrika is tuiste vir 10% van die wêreld se plante en 7% van die wêreld se reptiele, voëls en soogdiere. Ten spyte daarvan oorskrei die gebruik van hernubare hulpbronne by verre die vervangbare kapasiteit. 46% van ons woude en 62% van ons grasvelde is reeds vernietig en 10% van ons plantegroei word bedreig met uitsterwing.
Aangesien natuurlike hulpbronne miljoene mense in hul daaglikselewensbestaan ondersteun, het die verlies van biodiversiteit 'n direkte impak op die kwaliteit van hul lewens.
PLANT INHEEMSE BOME!
Oral - in jou tuin, op jou sypaadjie, al langs jou rylaan af, in die skoolgronde, publieke parke en ongebruikte munisipale grond - kry net eers toestemming. Dit sal groot getalle voëls na jou tuin lok en struike soos ''The Butterfly Bush'' sal ook sorg dat vlinders in jou tuin welkom sal voel.
PLANT 'N BOOM EN ONS SAL LEWE!