|
"HIP" Om Afrikaans te Wees!  Dit word ook al hoe meer "hip" om Afrikaans te kan praat (en ek sou sê die "Pampoen"-saga van Steve Hofmeyer, toe een of ander News Café geweier het om Afrikaanse musiek in hulle onderneming te speel, het baie daartoe bygedra om te wys dat die Afrikaner 'n groot stem het, alhoewel dit al in beweging was vir 'n geruime tyd voor dit) - meeste van die radio stasies ondersteun nou gereeld ons Afrikaanse kunstenaars en die TV aanbieders (soos Vuyo) glip maklik tussen Engels en Afrikaans in hul daaglikse programme. Onthou jou so om-en-by 2 dekades terug toe Afrikaans nie so gewild was nie? Veral onder party van die jongspan ... Om te kon Engels praat en wees was die 'in' ding en daar was somtyds neergesien op die plaas- of buitestedelike gemeenskappe wat net Afrikaans kon praat en hulle was beskou as die 'oningeligdes' en moes maar hulle eie groepies vorm vir geselskap. Ek praat nou nie van die egte Afrikaner wat altyd geweet hulle is Afrikaners nie, maar van die tendens of kultuur wat ontstaan het met gemengde Engelse en Afrikaanse huwelike wat plaas gevind het - die kroos van hierdie kultuur was meer geneig om 'Engels' te wil wees as Afrikaans, en as sulks het ons Afrikaanse taal begin ly onder die gewig van die 'Engelse' kultuur - al hoe meer Engelse woorde het in ons daaglikse taal ingesluip en deesdae is dit baie moeilik om enige sin te voltooi sonder dat een of ander Engelse woordjie inglip. Maar, soos alle dinge, neem dit 'n krisis om 'n mens te laat besef wat belangrik is vir jou. Toe die nuwe bedeling in 1994 plaasgevind het, was daar 'n skielike ontnugtering dat ons taal dalk bedreig kan word en onmiddelik het die ommeswaai begin plaas vind. Afrikaners het begin veg vir die reg om in hulle eie taal gehoor te word en te kan kommunikeer en die nagevolg spreek van self - ons Afrikaanse kunstenaars het en masse tevore getree, Afrikaanse webwerwe het vermenigvuldig, op baie Engelse webwerwe kan jy nou oorskakel na Afrikaans, Google het Afrikaans ingesluit in hul soek-enjins en dit het weer vir die jongspan "hip" geword om Afrikaans te wees. Natuurlik is die werk nie gedaan nie - die feit dat die Afrikaanse boek afdeling in boekwinkels soos die CNA maar net een of twee rye beslaan is bewys dat alleenlik die Afrikaner die mag het vir 'n groter ommeswaai - net ons ondersteuning vir ons Afrikaanse kunstenaars, skrywers en digters sal tot gevolg hê dat daar meer verskeidenheid materiaal beskikbaar is - hoe meer aanvraag, hoe groter die voorraad. Komaan almal, wees trots Afrikaans!
|